vir die MUSIEKLEIER - dec. 2007

> terug

vir die MUSIEKLEIER
Jaarblad van die Suid-Afrikaanse Kerkorrelistenvereniging
Desember 2007

Euwe de Jong & Sybolt de Jong (orrel vierhandig)
WestraMedia WM 150707 (57’O1”)
Engelse, Duitse en Nederlandse kommentaar ingesluit

Die Nederlandse broers, Euwe de Jong (1956) en Sybolt de Jong (1961), speel al sedert hul studietyd aan die Konservatorium te Groningen saam as orrelduo en het deur die jare ‘n bloeiende konsertpraktyk opgebou. Hulle repertorium omvat werke vir orrel vierhandig uit die Renaissance tot en met die hede. In 2006 begin hulle met ‘n reeks CD’s getiteld Bach Cantatas met opnames van dele uit J.S. Bach se kantates wat vir orrel vierhandig deur Sybolt de Jong verwerk is. Van die reeks, wat uiteindelik uit ses CD’s sal bestaan, het Deel 1 (opgeneem in die Martinikerk te Bolsward, Nederland) en Deel II (hier ter sprake) reeds verskyn — laasgenoemde vroeër vanjaar.

Met die eerste aanhoor van die CD — voortreflik opgeneem in die Grote of Jacobijnerkerk in Leeuwarden, Nederland, met die broers voor die Christian Müller-orrel uit 1727 — is die musiek onmiskenbaar dié van J.S. Bach. Alhoewel dit verwerkings van kantate-dele is, doen dit geensins afbreuk aan die gehalte van die musiek nie. Inteendeel, dit klink asof die musiek oorspronklik vir orrel geskryf is. Sybolt de Jong se verwerkings is van hoogstaande gehalte. Die keuse van werke is gebalanseerd met voldoende afwisseling.

Dit is duidelik dat die broers ervare duo-spelers is. Hul spel is tegnies onberispelik, en die samespel akkuraat sonder om soepelheid in te boet. Die registrasie is keurig en gepas. Dit komplimenteer nie net die musiek nie, maar stel ook die historiese instrument waarop die musiek uitgevoer word in ‘n baie gunstige lig.

Hierdie CD word met groot vrymoedigheid aanbeveel en kan regstreeks bestel word by www.dejongdejong.nl. ‘n Deel van die Bach-verwerkings word uitgegee deur Boeijenga’s Boek- en Muziekhandel in Veenhuizen, Nederland

Diederick Basson