vir die MUSIEKLEIER - dec. 2008

> terug

vir die MUSIEKLEIER
Jaarblad van die Suid-Afrikaanse Kerkorrelistenvereniging
Desember 2008

Euwe de Jong & Sybolt de Jong
(orrel vierhandig)
WestraMedia WM 130908

Die derde CD in die reeks Bach Cantatas, wat bestaan uit opnames van Sybolt de Jong se verwerkings vir orrel (vierhandig) van dele uit J.S. Bach se kantates, het pas verskyn.
(Sien Vir die Musiekleier 34, Desember 2007, bi. 62, vir ‘n resensie van Volume II.)
Die kunstenaars is die Nederlandse broers Euwe en Sybolt de Jong, asook Henk Stoel (BWV 97/1 en192/3).
Die opname is gemaak op die viermanuaal Hinsz-orrel in die Bovenkerk te Kampen, Nederland.
Alhoewel ons in hierdie opname orrelverwerkings van vokale en instrumentale musiek hoor, is die eindproduk bevredigend en slaag dit as “orrel”musiek. Die pragtige Hinsz-orrel in die Bovenkerk, wat homself deur die loop van die geskiedenis bewys het as ‘n waardige instrument vir die vertolking van Noord-Duitse orrelmusiek uit die Baroktydperk, was beslis ‘n goeie keuse vir hierdie opname.
Euwe en Sybolt de Jong speel reeds sedert hulle studentedae aan die Groningen Konservatorium saam as orrelduo.
Hulle onberispelike samespel getuig van tegniese beheersdheid, asook van ‘n fyn ingesteldheid op die ensemble-vennoot.
Die registrasie is keurig en sorg dat die polifoniese stemvoering in die werke duidelik na vore kom.
Ietwat steurend is egter die keuse van die Trompet 8’ op die BovenwerkII in die Trio super: Und was der ewig güt’ge Gott.
Die register spreek soms ‘n fraks te laat wat die eindresultaat belemmer.
Hierdie derde CD in die kantate-reeks word met vrymoedigheid aanbeveel.
Dit kan regstreeks bestel word by www.dejongdejong.nl — Diederick Basson